B L O O T S
  • Tuis
    • Terms and Conditions
    • Voorleggings
    • Gratis Nuusbrief
  • Gedigte
    • Uitgawe 8
    • Uitgawe 7
    • Uitgawe 6
    • Uitgawe 5
    • Uitgawe 4
    • Uitgawe 3
    • Uitgawe 2
    • Uitgawe 1
  • Artikels
    • Resensies en kritiek >
      • Resensie: Die tweede lyf, André Viljoen
      • Resensie: In die niks al om, René Bohnen
    • 1,2,3,4, versie op papier
    • Poësie in die Bybel: Cohen die Prediker
    • Manuskripte
    • Versvreugde hou makieties
    • SOLOVLUG
    • Vorige uitgawes >
      • Uitgawe 4: Woorde wat elders lewe >
        • Die weggesteekte liedjies in Paulus
        • Op soek na 'n stem
        • Tuin van digters
      • Uitgawe 5: Duende >
        • Poësie in die Bybel: Goeie digkuns wat ons hoër oplig
        • Melville Poësiefees
        • Hip-Hop rubriek: Die Ontkakkingsveldtog
      • Uitgawe 6: Die nuwe troebadoers: Poësie wat grense verken >
        • Poësie in die Bybel: Lofliedere van Lukas
        • Carpe Noctem - Nuus uit die nagkantoor
        • Marie Antoinette van haar kop af
      • Uitgawe 7: Die vrugbare grensgebied >
        • Poësie in die Bybel: Klipwerk van die Wysheid
        • Resensie: Die tweede lyf
  • Skryfskool
    • Wat maak die keurders?
    • Tradisioneel of eksperimenteel teel
    • Die vers as kuns
    • Slagvers
    • Digter in 'n bottel
    • Hoe om 'n (volks-) gedig te skryf
  • Kortverhaal
    • Skitterster
    • Agenda
    • Grace
    • Brolloks eet nie wortels nie
    • Ashoopvleis
  • Videoteek
    • Videoteek
    • Videogedigte
    • Klankdig >
      • Ian Raper
      • David Steyn
      • Abjater Ronkedoor
      • Naude Kritzinger
  • Kontak ons
  • Bloots boeke

Cohen die Prediker
Ds. Naude Kritzinger

Met die vorige uitgawe het ons die onwaarskynlike skryfwerk van Spreuke langs die klipwerk van N.P. van Wyk Louw gepak. Hierdie keer is ons nog steeds by die wysheid wat tradisioneel aan Salomo toegedig word. Maar helaas, dit lyk of iets intussen skeefgeloop het met die man. Miskien het dit iets te doen met die feit dat hy 700 vroue bygekry het... Hoe dit ook al sy, die man is lelik ontnugter. Spreuke het wat ons kan noem “positiewe wysheid”. Spreuke werk met 'n relatief eenvoudige oorsaak-gevolg skema. As jy goeie goed doen sal daar met jou goeie goed gebeur; as jy slegte goed doen sal daar slegte goed met jou gebeur. En as jou skelm buurman ryk is, wag maar net geduldig.... In goeie tyd sal hy in die tronk gaan sit, daar doodgaan en sommer ook hel toe gaan. (Die deel van die hel dink ek nie jy sal 'n verwysing in Spreuke van kry nie.) Soos byvoorbeeld in Spreuke 10:2-3

          Goed wat deur onreg bekom is,
                      bring geen voordeel nie;
          om te lewe volgens die wil van God,
                      red 'n mens van die dood.
          Die Here laat die mens wat reg doen,
                      nie honger ly nie,
          die Here laat die begeerte van dié wat verkeerd doen,
                      nie bevredig word nie.

Dit maak natuurlik sin. Tot op 'n punt. Dan kom die wysaard agter dat die liewe wêreld 'n paar ape in die mou voer. Job se vriende maak dit duidelik hoe hulle oor hom voel: as sulke groot ellendes jou tref is dit duidelik dat jy 'n groot sonde gepleeg het. Bely dit, ou swaer! Uit daarmee! Maar Job en Prediker het nie meer tyd vir maklike antwoorde soos “God het die  mooiste blommetjie eerste vir Hom gepluk nie”.

Woorde van die Prediker, seun van Dawid en koning in Jerusalem:

          Alles kom tot niks,
          sê die Prediker,
          tot niks. 

          Wat kry die mens vir sy geswoeg,

          sy geswoeg in hierdie wêreld?
          Geslagte kom en geslagte gaan,
          maar die wêreld bly altyd dieselfde. (Pred 1:1-4)

Depro pols-kou lirieke hierdie. Die refrein wat oor en oor gehoor word is: “tot niks”. In Hebreeus: “Heweil Hewalim” wat niksste beteken. En die man soek sin, hoor! Hy sit nie net op sy sterre en vergaan nie. Hy loop rond in die wêreld en kyk watse ouens lyk gelukkig. En dan spring hy in en toets dit. Hy begin by wysheid en kennis:

          Ek het my daarop toegelê
          om te verstaan wat wysheid en kennis is,
          en wat dit is om 'n gebrek aan wysheid en kennis te hê.
          Ek het vasgestel:
          ook dit is 'n gejaag na wind.
          Baie wysheid stel hoë eise,
          wie kennis versamel, versamel smart. (Pred 1:17-18)

En dan probeer hy elke nuwe drug op die mark:

          Ek het by myself gedink:
          laat ek my oorgee aan plesier,
          laat ek die lewe geniet!
          Maar ook dit het
          niks
          opgelewer nie.  (Pred 2:1)

En verder in dieselfde hoofstuk: “Ek het gewonder wat sal gebeur as ek my aan wyn oorgee…”, “groot ondernemings aangepak”, “ silwer en goud opgegaar”, “sangers en sangeresse werf, talle mooi meisies met wie ek die lewe kon geniet.”

Donker lirieke met 'n mineur toonsetting en genoeg wanklanke wat pas by die skeptisisme van...
Leonard Cohen natuurlik! Want daar’s nou 'n Jood (Cohen beteken “priester” in Hebreeus) wat ek graag langs Prediker aan tafel wil plaas. Vergelyk maar net die prediker se sentiment met een van sy vroeëre songs (“Bird on a Wire”):

          “...Like a bird on a wire
          like a drunk in a midnight choir
          I have tried in my way to be free
          ...
          I saw a beggar leaning on his wooden crutch
          he said to me: you must not ask for so much"
          and a pretty woman leaning in her darkened door
          she cried to me: hey, why not ask for more?...”


Ek is al lankal van mening dat die beste “Gospel” songs nie uit populêre gospel-liedere kom nie. Want die hoi polloi (die skares) wil graag hê daar moet 'n godsdienstige stropie oor alles gegooi word wat die mishope van die wêreld moet kamoefleer. Dit is eerliker om eerlik met die wêreld om te gaan en eerlik te stoei met dinge wat blykbaar heel gelukkig is dat dit nie sin maak nie. Chris Rhea skroom byvoorbeeld nie om te sê dat die gejaag na tegnologiese vooruitgang “the road to hell” is nie. Of in 'n ander lied:

          “...tell me there’s a heaven
          tell me that it’s true

          tell me there’s a reason
          why I’m saying what I do...”


Dit moet altyd 'n groot deel van die digter se stem bly: om die wêreld te teken soos die wêreld is. Vra vir Bob Dylan. Vra vir Tom Waitts. Want goeie lirieke is niks anders as digkuns nie. Gedigte met “noodsaak”, om NP van Wyk Louw se woord te gebruik. Dit behoort ons mos nie te verras dat heelwat van Leonard Cohen se liedjies/gedigte in die “Norton Anthology of Poetry” opgeneem is nie. En dat in Komrij se grootse bloemlesing ('n Duisend en enkele gedigte) die name van David Kramer, Koos Kombuis, Anton Goossen, en (ja!) selfs Steve Hofmeyr in voorkom nie.

So 'n skeptisisme (as ons dit so kan noem) beteken nie dat daar nie 'n plek vir die religieuse in sulke werke is nie. Inteendeel! Om 'n paar lyne uit die lied van Cohen te neem wat ek beskou as “die psalm van Cohen”:

          “You say I took the Name in vain
          I don’t even know the Name
          but if I did, well really, what's it to you?
          There's a blaze of light in every word
          it doesn’t matter which you heard
          the holy or the broken Hallelujah

          Hallelujah, Hallelujah
          Hallelujah, Hallelujah

          I did my best, but it wasn’t much
          I couldn't feel, so I tried to touch
          I've told the truth, I didn’t come to fool you
          and even though it all went wrong
          I'll stand before the Lord of song
          with nothing on my tongue but Hallelujah”


Met tye lyk dit of die skrywer van Prediker darem naby aan 'n Prozac verbygeloop het. Maar net vir 'n oomblik...

          “Dit het ek wel ingesien:
          dat dit 'n mens meer baat om wysheid te hê
                        as om dit nie te hê nie,
          net soos lig 'n mens meer baat
                       as duisternis.
          Die wyse weet wat hy doen,
                       vir die dwaas is daar net donkerte.
          Maar dit weet ek:
          een en dieselfde lot tref albei.

          Ek het by myself gedink:
          die lot van die dwaas sal my ook tref,
          wat help dit my dan dat ek soveel wysheid het?
          En ek het vir myself gesê:
          ook dit kom tot niks.” (Pred 1:1-14)

Wat is ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Die veiligste is om nie 'n gevolgtrekking te maak nie. Die lewe is mos 'n paradoks. Te maklik maak ons die fout om die lewe met 'n “ALS REG” stempel reg (of weg) te verklaar. En dan sing “The Byrds” heel vrolik die skeptiese woorde wat eintlik nader aan fatalisme kom. Die woorde van Prediker 3: “For everything (turn turn turn) there is a season (turn turn turn)”. Hierdie woorde se bedoeling is eerder nader aan Cohen se “Anthem”:

          “Don't dwell on what
          has passed away
          or what is yet to be.
          Ah, the wars they will
          be fought again,
          the holy dove
          she will be caught again,
          bought and sold and bought again
          the dove is never free.”


Die wonderlike laaste hoofstuk van Prediker is moontlik self 'n voorbeeld hiervan. Dit word deur baie teoloë beskou as 'n latere byvoeging; iemand wat darem sy pessimisme bietjie wou demper met:

          “Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit:
          Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word” (Pred. 12:13)

Maar tog wil dit vir my lyk of beide Prediker en Cohen 'n lig in die donker tonnel sien:

          “Ek het tot die insig gekom
          dat daar vir 'n mens niks beter is nie
          as om vrolik te wees
          en die goeie van die lewe te geniet.” (Pred 3:12)

          “Werp jou brood op die water,
          eendag kry jy dit (dalk) terug.” (Pred 11:1, my byvoeging)

          “Ring the bells that still can ring
          forget your perfect offering
          there is a crack in everything
          that's how the light gets in.” (Cohen, weer  in “Anthem”)

Die digters sê: Dit is die lewe. Lewe dit.

registreer vir nuusbrief / newsletter sign-up
Track Websites
Web Counter